COMMENDATIO MET DIE OORHANDIGING VAN DIE VAN EWIJCK STIGTING SE PRESTASIEBEURS AAN PROF. ENA JANSEN, 5 APRIL 2017
Goeie môre en welkom aan ons eregas, prof. Ena Jansen, raadslede asook die goeie sekretaris van die Van Ewijck Stigting en ons verskeie ander gaste waaronder prof. Pamela Patinama.
Soos u kan sien, is dit ‘n beskeie byeenkoms in die gees van die Van Ewijck Stigting wat oor die jare probeer het om sonder grootdoenerigheid oorwoë uitvoering te gee aan die testamentêre opdrag van die Van Ewijck-egpaar om inisiatiewe aan te moedig en te beloon wat die kulturele verbintenisse tussen Suid-Afrika en Nederland versterk. En natuurlik sorgsaam om te gaan met die geld wat hiervoor aan ons toevertrou is. Naas ons groot verskeidenheid ander toekennings, wat insluit dié aan hulpbehoewende Nederlandse bejaardes en aan studente, het ons een prestige-toekenning. Dit is ons prestasiebeurs wat ons vandag toeken.
Dit is ‘n beloning vir besondere prestasie op die terrein van kulturele uitwisseling. Ons is bly dat ons dit vandag kan oorhandig aan prof. Ena Jansen wat na die sogenaamde kulturele boikot die eerste persoon was om die leerstoel in Afrikaans in Amsterdam na ‘n lang leemte weer te vul in 2001 tot met haar emeritaat in September verlede jaar. Sy het dit na 15 jaar se baie harde werk heropgebou en dit opnuut ‘n posisie gemaak wat met agting beskou word deur akademici in Nederland ook elders. Dit is geen klein prestasie nie gegewe die agtergrond waarteen sy dit moes doen. Sy was terselfdertyd “bijzonder hoogleraar Zuid-Afrikaanse literatuur” aan die Universiteit van Amsterdam. Haar salaris moes sy verdien as dosent in Nederlandse letterkunde aan die Vrije Universiteit. Dit was dus ook gewoon wat taakdrag betref ‘n groot opgawe terwyl sy eintlik geen direkte beloning ontvang het nie.
In die proses het sy letterlik honderde Nederlandse studente bekendgestel aan ons “wye en droewe land”. Trouens een van die prikkelende temas wat sy behandel het, was ook getitel “O wye en droewe land” (die woorde van die eerste bekleder van die leerstoel, N.P. van Wyk Louw). Dit het gegaan oor landskap in die letterkunde. Sy het ook gereeld Afrikaanse skrywers in vergelykende verband met Nederlandse skrywers behandel. Dit geld ook die begeleiding van vele skripsies. Sy het minstens 10 Bacculareus-skripsies begelei en 12 MA-skripsies. Teen haar aftrede was daar 2 doktorsgrade onder haar leiding voltooi terwyl daar vier promovendi nog aan die gang was. Klaar is sy dus waarskynlik nog nie.
Ek noem graag enkele titels wat ten opsigte van uitwisseling my oog gevang het. In 2014 was daar Eva Vonk se Krotoa/Eva en Pieternella als schakelfiguren in Stemmen uit zee. Stemmen uit zee is die Nederlandse vertaling van Dan Sleigh se Eilande. Tans is Tychon Maas besig met ’n doktorale studie oor De Grevenbroeck en ander vroeë Kaapse skrywers.
Prof. Jansen het dus gesorg dat interessante en belangrike navorsing oor die Afrikaanse letterkunde in Nederland momentum gekry het op ’n skaal wat trouens nooit tevore bereik is nie.
In haar eie navorsing het sy aanvanklik gefokus op dié Afrikaanse digtersfiguur wat ook in die donkerste tyd van die kulturele boikot die kloof tussen Suid-Afrika en Nederland met groot grasie bly oorbrug het, naamlik Elisabeth Eybers. Haar proefskrif oor Eybers het sy verwerk in ’n mooi publikasie getitel Afstand en verbintenis, Elisabeth Eybers in Amsterdam wat sowel in Suid-Afrika en Nederland uitgegee is. Onder haar ander werk wat in boekvorm verskyn het, tel Lieve Vrouw en kinders, ‘n boek met briewe van Jan Hoogeveen (die honderdste Nederlandse onderwyser wat in 1897 na die Zuid-Afrikaanse Republiek gegaan het) en wat eweneens in beide lande verskyn het. Dit geld ook haar jongste boek wat wyd aandag gekry het en in Suid-Afrika bekroon is: Soos familie. Dit het ook daarna in Nederland verskyn het as Bijna familie. Die Nederlandse vertaling is trouens deels gesubsidieer deur die Van Ewijck Stigting.
Prof. Jansen het in die tyd dat sy die leerstoel beklee het ook op verskeie ander maniere die bande help versterk. Dit sluit diens in op letterkundige kommissies en ook gewoon dat sy vir vele mense ‘n vraagbaak was, by wie om akademiese advies aangeklop is. Sy het verder ‘n groot aantal referate gelewer by kongresse en simposiums, gaslesing gegee, akademiese en meer populêre artikels gepubliseer. Hiermee was sy nie slegs betrokke by die twee lande nie, maar het sy die die skakeling verder uitgebrei na die gewese Nederlandse kolonies: na Indonesië, Suriname en die Karibiese gebied.
Nog ‘n belangrike saak wat geopper moet word, is prof. Jansen se aktiwiteit by die bekende Zuid-Afrika-huis, Keizersgracht 141. Hier was sy gereeld aanwesig in die biblioteek en betrokke by aktiwiteite waaronder lesings deur besoekende Suid-Afrikaanse akademici en skrywers. Toe hierdie kulturele baken met sy belangrike biblioteek opeens bedreig is deur bestuurders vir wie kulturele waardes blykbaar ondergeskik geraak het aan finansiële oorweginge, was dit prof. Jansen wat die leiding geneem het in ‘n reddingsaksie. Dit was sy wat die leidende figure van Naspers sover gekry het om betrokke te raak, die gebou te renoveer en die biblioteek sowel as kulturele ruimte te herstel. Haar pretasie in die verband is alleen al rede genoeg om ons prestasiebeurs aan haar toe te ken.
Prof. Jansen het voorheen al beurse van die Van Ewijck Stigting ontvang en dit elke keer gebruik om knap akademiese produkte tot stand te bring. Dit sluit ook ons jaarlikse toekenning vir die leerstoel in. Ek twyfel nie daaraan dat die toekenning van ons prestasiebeurs ook hierdie weg gaan volg nie. Sy het reeds ‘n biografie in die vooruitsig gestel oor dr. Elizabeth Conradie, die bekleër van die Afrikaanse dosentskap net voor die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog.
Prof. Jansen, Ena, ek oorhandig graag die prys aan jou met dank vir jou werk en wens jou namens die Stigting ‘n produktiewe toekoms toe.
Wium van Zyl, Voorsitter