COMMENDATIO

Jacques van der Elst het ‘n lewe agter die rug van toewyding aan die versterking van die bande tussen Nederlands en Afrikaans. Hy was hoofredakteur en samesteller van die baanbrekende studie Momente in die Nederlands letterkunde, die eerste Afrikaanse geskiedenis van die Nederlandse letterkunde, en het ook ‘n belangrike rol gespeel in die organisering van ‘n opvolg-studie, die tweedelige Verbintenis en venster onder redaksie van prof Hennie van Coller, waarvoor Van der Elst twee hoofstukke geskryf het. Verder is hy die outeur van 60 akademiese publikasies met Nederlandse temas, en het hy ook ‘n groot hoeveelheid nagraadse studente begelei in skripsies en dissertasies oor die Nederlandse literatuur.

Van der Elst was die stigter van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek, waarvan hy vanaf 1993-2004 die voorsitter was. In 2011 het die vereniging erelidmaatskap aan hom toegeken, en in die commendatio is melding gemaak van sy ‘voortreflike diens aan die Neerlandistiek in Suid-Afrika.’ Hy neem die inisiatief en leiding by die organisering van die SAVN-kongres in 1992, die eerste een na die opheffing van die kulturele boikot tussen Nederland en Suid-Afrika, en dit stimuleer oor die jare heen verskeie besoeke van Nederlandse akademici aan Suid-Afrika. Van der Elst was ook lank lid van die hoofbestuur van die Internasionale Vereniging vir Neerlandistiek.

Tereg skryf dr. Eep Francken oor hom: ‘In Hollandse ogen is professor Jacques van der Elst in de eerste plaats de man van samenwerking tussen Nederland en Zuid-Afrika.’

Prof Jacques van der Elst en sy vrou, Betsie.