COMMENDATIO MET DIE OORHANDIGING VAN DIE VAN EWIJCK-STIGTING SE PRESTASIEPRYS AAN DRS INGRID GLORIE OP 15 OKTOBER 2022
Ingrid Glorie verteenwoordig die generasie van ná die kulturele boikot wat die Afrikaanse letterkunde kon herontdek binne die konteks van ’n nuwe, demokratiserende Suid-Afrika. Sy was een van die eerstes uit ’n hele stroom Neerlandistiek-studente uit Nederland en Vlaandere wat Afrikaans tot hul studiepakket toegevoeg en ook ’n studietyd hier kom deurbring het.
By ’n eerste kennismaking het sy dit nie gelaat nie. Wat ’n kort studiebesoek en werk as jong gasdosent moes wees, het uitgeloop op ’n heelwat langer verblyf. Daarna volg ’n verskeidenheid wetenskaplike artikels oor figure soos Jan F.E. Celliers, Melt Brink en Sonja Loots asook haas vergete maar kultuur- en literêr-historiese belangrike instansies soos die Stellenbosse studentevereniging “Ons Spreekuur”, die institusionele posisie van die eerste Afrikaanse vroulike skrywers, die destydse boekesendings van die Algemeen Nederlands Verbond na Suid-Afrika, die vroeë Suid-Afrikaanse Nederlandse toneelgeskiedenis, die “Groenbergsch Lees- en Debatgeselschap”.
Sy vertaal ’n sestal Afrikaanse boeke waaronder werk van Etienne Leroux, Deon Meyer, Deon Opperman en Simon Bruinders. Vertaling vorm uiteraard ’n vername brugfunksie. Vertalers is dit ook meestal eens dat geen ander dissipline ’n mens soveel laat indring in taal en kultuur nie. Sy het trouens in Nederland die toekennings as “vertaalengel” op grond van hierdie werk ontvang.
Die rol as brugbouer sit sy voort as inisieerder en organiseerder van twee gereelde feesgeleenthede in Nederland: Week van de Afrikaanse roman en Festival voor het Afrikaans. Dit is moontlik onduidelik wat die toekoms van hierdie projekte is. Dit staan egter vas dat albei baie suksesvol was en ’n betekenisvolle bydrae gelewer het tot die belangstelling in die Afrikaanse letterkunde in Nederland en tot kontak tussen Suid-Afrikaanse en Nederlandse skrywers. Van ons voorste skrywers kon hierdie omarming van die Nederlande en ’n ekstra beloning vir hul werk ervaar.
Sy het ook die inisiatief verder gevoer met die stigting van ’n leeskring oor die Afrikaanse letterkunde in Zuid-Afrikahuis. Dit het nie slegs meer Suid-Afrikaanse skrywers bekend gestel nie, maar ook vir hulle verdere geleentheid gebied om daar op te tree wanneer hulle in Nederland was.
Sy is van 2012 tot 2017 hoofredakteur van Maandblad Zuid-Afrika en daarna ’n tyd lank van die blad se opvolger, Spectrum. In hierdie blaaie skryf sy self boeiende stukke oor onderwerpe wat in Suid-Afrika self dikwels misgekyk is en bied so ’n onafhanklike joernalistieke stem. Van haar joernalistieke werk verskyn verder onder meer in Vrij Nederland, Trouw, Literatuur, Moer, Kritisch Lexicon der Nederlandse Literatuur, De Standaard en in Afrikaanse publikasies soos Tydskrif vir Letterkunde, Insig, Rapport, Die Burger en LitNet. Dit vorm op sigself oorbrugging van belang.
Verwante werk is haar bydrae om Afrikaanse ekwivalente toe te voeg tot Van Dale se Spreekwoordenboek (1999). In 2015 is sy samesteller van byvoorbeeld Een overzicht van de hedendaagse in het Afrikaans gezongen muziek. Deel 1 in samewerking met Herman van Veen. Dit is dan ook nie verbasend dat sy ’n SATOER-kwalifikasie as reisgids in haar pylkoker dra nie.
Sedert die doctoraalfase van haar studie het sy opgetree as gasdosent of die aanbieder van lesings en werkwinkels, in Suid-Afrika ten opsigte van die Nederlandse letterkunde en in Nederland ten opsigte van Afrikaans. Dit sluit universiteite in soos UWK, Stellenbosch, Rhodes, Utrecht en Leiden.
Die Van Ewijck Prestasiebeurs gaan oor werk en prestasies wat reeds gelewer is. Ek noem egter ook graag enkele aktiwiteite waarmee sy tans aan die gang is. Sy is betrokke by die opstel van “Boeken uit het Huis”, ’n projek van Zuidafrikahuis in samewerking met die Nederlandse Taalunie. Daar word onder andere gesprekke beplan met Ena Jansen (Eybers-bloemlesing), ook met Veronique Jephtas, PP Fourie, Annemarié van Niekerk, Adriaan van Dis, Jaap Goedegebuure, Irma Joubert en Ingrid Winterbach.
Sy is saam met Elize Zorgman besig aan En ons sê almal so. Lesboek Afrikaans voor Nederlandstaligen. (Beoogde publikasiedatum 2023.) Tans is sy ook ’n bureaumedewerker van die onder Suid-Afrikaanse Neerlandici so lewensbelangrike Internationale Vereniging voor Neerlandistiek.
Na baie van hierdie aktiwiteite staan op haar CV “vrijwilligerswerk”, d.w.s. sy het dit sonder vergoeding gedoen. Dit is te meer ’n rede waarom ons graag die Van Ewijck Prestasietoekenning met ’n substansiële bedrag aan haar oorhandig. Ons vertrou dat sy dit sal ervaar as nie slegs erkenning en waardering vir haar werk as kulturele brugbouer nie, maar ook ‘n aanmoediging vir die toekoms.
(Prof) Wium van Zyl
(Voorsitter)
Sien ook Ingrid Glorie se dankwoord by
https://voertaal.nu/festival-voor-het-afrikaans-staat-open-voor-samenwerking/