ACHIEVEMENT AWARD, PROF HANS ESTER: COMMENDATIO DELIVERED ON 29 AUGUST 2023

HANS ESTER AS STUDENT

Hans Ester studeer Duitse taal- en letterkunde aan die Universiteit van Amsterdam (1966-1969), maar volg tegelykertyd daar ’n kursus oor die SA Letterkunde onder leiding van mevrou Truida Lijphart-Bezuidenhout. Hier word sy belangstelling vir Afrikaans gewek, en hy gaan studeer Afrikaanse taal- en letterkunde by die Witwatersrandse Universiteit onder leiding van NP van Wyk Louw en Ernst van Heerden (1969-1970). Veral Louw het ’n blywende indruk op hom gelaat en sy belangstelling in die Afrikaanse letterkunde verder versterk.

Hy studeer af aan die Universiteit van Amsterdam en behaal sy doktoraal cum laude in 1971. Sy hoofvak is Duitse taal- en letterkunde, met die byvakke teologie en Afrikaanse letterkunde. Dit sou drie van sy groot belangstellings bly: die Duitse letterkunde, die Afrikaanse letterkunde en teologie.

DOSENT

Hy word dosent in Literatuurwetenskap aan die Radboud-Universiteit in Nijmegen (1988-2011); daar is hy onder andere die organiseerder van en deelnemer aan die kursus Zuid-Afrikaanse Studies (2005-2012).

GASDOSENTSKAPPE EN GASLESINGS

Ester was gasdosent aan die Rhodes-Universiteit in Grahamstad, April-Junie 1995; en met Abraham de Vries en Wium van Zyl organiseer hy en neem hy deel aan ’n lesingreeks oor die Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Amsterdam, 1995-2003.

Hy lewer vele gaslesings oor die Afrikaanse letterkunde in Nederland en in Suid-Afrika – in Nederland onder andere aan die Universiteite van Utrecht en Amsterdam (Vrije Universiteit); in Suid-Afrika aan die Universiteite van Kaapstad, Stellenbosch, Grahamstad, Durban, Pietermaritzburg, Bloemfontein, Potchefstroom, WITS en in Namibië aan die Universiteit Windhoek.

BOEKE EN ARTIKELS IN BOEKE

Daar is te veel om hier op te noem; ek noem net enkele van sy vele bydraes:

 Die boek Voortbestaan in gerechtigheid: Dichten en denken van N P van Wyk Louw (1985), waar hy redakteur sowel as bydraer is. Die titel verwys na ‘n stelling van Van Wyk Louw – sy waarskuwing teen die versoeking vir die Afrikaner om blote voortbestaan te stel bo voortbestaan in geregtigheid. Twee van Ester se belangstellings word hier gekombineer – Van Wyk Louw en die idee van geregtigheid. Hy is iemand wat met elke teks worstel – nie slegs om dit te verstaan nie, maar om dit te toets aan sy sterk etiese raamwerk.

In Nederland het hy ‘n vriendskap met Elisabeth Eybers gesluit. Soos hy, leef sy, ná haar emigrasie na Nederland, tussen twee wêrelde. Ester het ‘n besondere kennis van en ’n insig in haar werk; hy het vele gesprekke met haar gevoer en studies oor haar geskryf, onder andere: Het helende woord: Poëzie en prosa van Elisabeth Eybers (Leiden: Dimensie, 1989); Liber amicorum Elisabeth Eybers (Kaapstad: Human & Rousseau, 1990) – redakteur en bydraer; Elisabeth Eybers: Poëzie tussen twee werelden (Amsterdam: SA Instituut, 1990) – redakteur en bydraer.

Verder skryf hy ’n hoofstuk oor Louis Krüger, Suid-Afrikaans gebore predikant in Rotterdam – nog ’n skrywer tussen twee wêrelde – in Perspektief en profiel (Pretoria, 2012 – redakteur H P van Coller).

’n Hoogtepunt in Hans Ester se oeuvre is sy boek Land onder die Suider-sterre (Amsterdam: SA Instituut, 1993) – ’n versameling van 34 opstelle, voordragte, gesprekke en resensies. Weer eens is daar te veel opstelle om almal op te noem. Daar is onder andere ’n insiggewende opstel oor Van Wyk Louw ná die digter se dood; ’n diepsinnige ontleding, in suiwer Afrikaans, van Etienne Leroux se roman Een vir Azazel; ’n onderhoud met Beyers Naudé; drie opstelle oor die werk van Elsa Joubert met titels tiperend van Ester se belangstellings (“Elsa Joubert en het conflict van Europa en Afrika: Over de verhalenbundel Melk”; “Elsa Joubert en de tweestrijd van de Afrikaner – Over die roman Die laaste Sondag”; en “Een zoektocht naar God’s opdracht in Afrika: Over Elsa Joubert’s roman Missionaris”); verder ’n gesprek en drie opstelle, soms krities, oor André P Brink; drie artikels oor die werk van Etienne van Heerden, en ten slotte ’n opstel, weer eens tiperend, met die titel “Die Suid-Afrikaanse literatuur as etiese en estetiese uitdaging vir ’n Europese leser.”

Ester, ’n kenner van die Duitse literatuur en kultuur, het hom verdiep in studies en letterkunde oor die Holocaust. Hy was sekretaris van die Stichting Kunstenaarsverzet 1942-1945 en sekretaris van die ondersoeksprojek Nederland-Holocaust-Kunst. Sy belangstelling in die verwerking van trauma in die kunste het daartoe gelei dat hy ’n sleutelrol gespeel het in die totstandkoming van ’n boek waartoe literatore en filosowe uit Nederland en Suid-Afrika bygedra het: Woordeloos tot verhaal: Trauma en narratief in Nederlands en Afrikaans (Stellenbosch: Sun Media, 2012 – redakteurs Hans Ester, Etty Mulder en Chris van der Merwe).

Die Christelike geloof is ’n riglyn in sy lewe; maar dit is ’n geloof wat hy steeds ondersoekend benader as krities-rasionele moderne Westerling. Dit het ek agtergekom in ons briefwisseling wat later gepubliseer is onder die titel: Twyfelaars wat glo: ‘n Nederlands-Afrikaanse tweegesprek (Stellenbosch: Sun Press, 2019).

TYDSKRIF-ARTIKELS EN VERTALINGS

Hans Ester se tydskrifbydraes oor die Afrikaanse letterkunde is, weer eens, te veel om op te noem. Vermeldenswaardig is sy lewensberigte in jaarboeke van die Maatschappij der Nederlandse letterkunde oor verskeie Afrikaanse skrywers, en sy artikels oor die Afrikaanse letterkunde in die Lexikon der Weltliteratur, die Grote Winkler Prins Encyclopedie en die Brockhaus Enzyklopädie.

 Ook belangrik is sy vertaling van Afrikaanse werke in Nederlands en Duits. Van belang hier is Breyten Breytenbach: Een seizoen in het paradijs (1980); Elisabeth Eybers: Zwölf Gedichte (1985); Elisabeth Eybers: Noodluik/Notausgang (1993); en Louis Krüger: Besuch am Nachmittag (1993).

’N VOORTREFLIKE BRUGBOUER

Hans Ester is ’n voortreflike brugbouer tussen kulture en ’n ambassadeur vir die Afrikaanse letterkunde. Soos ’n refrein het ek die frase gebruik, “te veel om op te noem”. Daar is inderdaad te veel om op te noem. Hans Ester het reeds in Suid-Afrika erkenning gekry: Hy is verkies tot lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en in 2002 het die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom ’n eredoktorsgraad aan hom toegeken. Hiermee wil die Van Ewijck-Stigting ook met ons Prestasieprys bydra tot die erkenning wat hy so ryklik verdien.

(Prof) Chris van der Merwe
(Ondervoorsitter)

Profs Hans Ester, Chris van der Merwe (Vice Chair) and Wium van Zyl (Chair)