Die Van Ewijck Stigting se jaarlikse prestasieprys van R100 000 vir die bevordering van die kulturele bande tussen Suid-Afrika en Nederland word vanjaar verdeel tussen twee akademici van die Universiteit van Leiden, dr Eep Francken en prof Olf Praamstra. Hulle het oor die jare heen vele Afrikaanse letterkundiges en studente na Nederland ontvang en die Afrikaanse letterkunde in Nederland bevorder. Hulle jongste bydrae is ’n gesamentlike werk, die monumentale studie van meer as 600 bladsye, Geen land voor dromen (2023). Dis ’n studie oor Nederlandstalige skrywers in Suid-Afrika en oor Suid-Afrika, waarin ’n magdom nuwe inligting en nuwe perspektiewe na vore kom.

(Die Van Ewijck Stigting se prestasieprys vir 2024 is op 16 Augustus 2024 in die SASNEV-gebou deur die voorsitter, prof. Wium van Zyl, oorhandig aan die direkteur van die Suid-Afrikaanse Stigting vir Nederland en Vlaandere [SASNEV], Eureka Barnard)

Ek oorhandig vandag graag die VES se prestasieprys vir 2024 aan SASNEV.

SASNEV het ’n uitstekende aansoek ingedien waaruit duidelik blyk dat hierdie instelling die VES se hoofdoel, naamlik die bevordering van kulturele bande tussen Suid-Afrika en Nederland, vanaf sy oprigting energiek op verskeie wyses ondersteun het. Ons is ook daarvan oortuig dat SASNEV hierdie werk in die toekoms wil voortsit en dat hierdie toekenning daarom nie die laaste steun van ons kant sal wees nie.

SASNEV het vanaf die oprigting 27 jaar gelede ’n skitterende en verwelkomende tuiste gebied vir alle organisasies wat op hierdie terrein aktief is, onder meer die Algemeen Nederlands Verbond, die Nederlandse Bibliotheek, die Stigting VOC, die Orde van de Prince, die Nederlandse taalverwerwingsklasse van Learn Dutch en die Kaapse Forum vir Neerlandistiek. Ook die Van Ewijck Stigting het al gou hier ’n vergadertuiste gekry waarvoor ons spesiaal dankie sê.

Die aktiwiteite sluit in Neerlandistiekdae vir studente Afrikaans en Nederlands van die Wes-Kaap, Oos-Kaap en Namibië. Onder die direkteurskap van die bekroonde vertaler Daniel Hugo is indertyd begin met vertaalwerkwinkels. Daarna het ’n groot aantal simposiums, lesings en voordragte gevolg. Formele feestelikhede soos Koningsdag word hier gevier vir persone van alle leeftye.Selfs Sinterklaas maak jaarliks hier sy verskyning.

Onder die direkteurskap van Eureka Barnard is daar na ’n verdere vlak beweeg. ’n Reeks Nederlandse lespakkette vir Suid-Afrikaanse skole, getitel “Eenders en anders” is oor ’n aantal jare met die medewerking van deskundiges onder haar leiding ontwikkel. Tydens die Covid-pandemie is ’n YouTube-kanaal, Studio SASNEV, tot stand gebring waardeur sedertdien reeds meer as 30 opnames gemaak is en wat belandstellendes dwarsoor die wêreld in staat tel om die lesings, onderhoude en ander aktiwiteite te sien en te hoor. Die eerste opnames is boonop gemaak met die bekendstelling van SASNEV se eerste Week van het Nederlands wat deel vorm van ’n jaarlikse internasionale viering.

SASNEV het ook oor die jare gesorg vir uitgebreide uitreiking en netwerkvorming deur die organisaseer van reise en optrede vir Nederlandse skrywers in verskillende provinsies en by sowel volwasse gehore en organisasies as by skole. Onder die skrywers tel die grootste name van ons tyd. Nederlandse stage-studente het hier vrugbare periodes deurgebring. Afrikaanse leeskringe is aangemoedig om Nederlandse boeke by hul jaarprogramme in te sluit en sommiges het die SASNEV-gebou hul permanente vergaderruimte gemaak. ’n Gereelde SASNEV-nuusbrief en webwerf word in stand gehou. Dit bied ’n skakelfunksie vir diegene wat vanuit Nederland of vanuit Suid-Afrika na inligting soek.

Hiermee is alles sekerlik nog nie gesê nie. ’n Sterker motivering is egter nie nodig om die Van Ewijck Stigting se prestasieprys van R100 000 te oorhandig aan SASNEV se direkteur en die aanwesige raadslede nie. Ons doen dit met ons beste wense vir die toekoms.

Wium van Zyl, 16 Augustus 2024

DSC_2990 copy

prof. Chris van der Merwe (vise-voorsitter VES), prof. Wium van Zyl (voorsitter VES), me. Eureka Barnard (direkteur SASNEV), mnr. Jan Mutton (voorsitter SASNEV), prof. Andries Visagie (raadslid VES) en dr. Nicol Stassen (raadslid SASNEV).